“Bly op die pad wat die Here julle God vir julle aangewys het, sodat julle kan bly lewe en voorspoedig kan wees en lank kan woon in die land wat julle in besit sal neem” (Deuteronomium 5:33).
Een van die werklik troosvolle perspektiewe in die Bybel is dat die Bose se mag nie net uiterlik deur die God van Christus hokgeslaan en begrens is nie.
Ook innerlik, na binne, is die Bose se mag beperk. Wat beteken dat die Bose nooit sonder mense se samewerking kan funksioneer en sy slopende werk kan doen nie. Regdeur die Bybel, beginnende reeds by die paradysverhaal, sien ons hierdie beperkingspatroon.
Ons sien hoe die eerste mense eers tot sekere skandelike optrede of leuenagtige dade verlei moes word, vóórdat die Bose sy skadelike en verraderlike werk deur hulle kon begin doen.
Dit alles beteken dat, ondanks die duiwel se subtiele aanslae, ons steeds vry is om weerstand te bied, om ons daarteen te verset en ons ook van die Bose se dodelike truuks en bindings los te maak en ‘n beter weg kies – die weg van gehoorsaamheid en lewe, van liefde en diens.
Tereg roep die skrywer van Deuteronomium ons op: “Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe” (Deut 30:19).
O Here, ons is vry, ons kan kies. Help ons om vandag die ware lewe in navolging van U te kies. Amen
Carel Anthonissen