As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën … (Markus 8:34).
Lydenstyd is ‘n tyd van dieper nadenke oor ons geloof.
Dit dwing ons as ‘t ware om die dieper motiewe en redes vir ons geloof nuut te ondersoek. Om eerlik te peil en vas te stel waarom presies ek myself ‘n Christen noem.
Want om Christus te volg, is normaalweg nie maklik nie – laat ons dit maar openlik sê. Selfs wanneer die weg sáám met Hom die belofte van nuwe hoop en groter vryheid inhou, verg dit ‘n bepaalde geloof, toewyding en dissipline.
Trouens, om Jesus te volg, vra ‘n totale reoriëntasie van ons lewe – ‘n kritiese bevraagtekening van die waardes en gewoontes waarmee ons tot dusver geleef en gedweep het, van die dinge waaraan ons so klou en wat ons lewe tot nou toe so gerieflik, spanningsvry en selfgerig gemaak het.
Ja, om eg te glo, vra dikwels ongewone keuses en daadwerklike offers. Offers wat daartoe kan lei dat ons, soos Hy, kan swaarkry en selfs kan ly.
Tereg het Dietrich Bonhoeffer geskryf: “Wanneer Christus ons roep, roep hy ons om te kom sterf” – ook te sterf aan die gerief, trots, obsessies, slegte gewoontes en vooroordele waarmee ons dikwels so onkrities en selfvoldaan leef.
Petrus moes dit op ‘n harde manier leer. As Christen-gelowiges staan ons in dieselfde ry.
O Here, leer ons vandag weer wat dit beteken om U met oorgawe te volg. Amen
Carel Anthonissen