“Want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê” (Markus 8:33).
Uit die verhaal van Jesus wat Petrus berispe (Mark 8:31-33), skemer enkele dinge deur wat ons – net soos met Petrus – kan verhinder om die lydende Jesus op sy kruisweg te volg.
Die eerste is dat ons bang is vir mense en dus toelaat dat hulle opinie en sienings, voorkeure en smake ons keuses beïnvloed.
Diep in ons almal – dit moet ons toegee – sit daar maar die sug na erkenning, die behoefte om raakgesien, aanvaar en selfs bewonder te word. En ons sal alles doen om dit nie te verloor nie. Trouens, as ons eerlik is, moet ons soms toegee: Ons vrees dit om nie in te wees nie, om nie aanvaar en gerespekteer te word nie.
Ja, om jou gewildheid en aansien onder mense, veral jou vriende, te verloor.
En dit maak ons soms sku – net soos met Petrus – om vrymoediger vir die saak van die evangelie op te staan. Soos Paulus dit later sou uitdruk, om ter wille van Christus dwaas te word (1 Kor 4:10).
O Here, help ons vandag om u stem en u wil bokant dié van mense te stel.
Carel Anthonissen