“Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele …” (Markus 8:38).
Nóg ‘n manier om die kruisweg van Jesus te ontduik, is om jou te skaam vir dié Man en sy ongewone boodskap en pad.
Soos Petrus later by die vuur (Luk 22:54-62), kan dit ‘n verleentheid, selfs ‘n gevaar word om met Jesus en sy saak geassosieer te word. Veral wanneer dit blyk dat sy weg ‘n skynbare doodloopstraat is wat jou boonop jou reputasie, vriende en selfs jou lewe kan kos.
As moderne mense wat vertroud is met die kritiese debatte oor die godsdiens, ook weet van die negatiewe houding waarmee baie mense vandag die kerk en Christendom bejeën, ken ons dié dilemma.
Hoe ‘n mens vir die saak van Christus skaam kan word. En daarom liewer swyg, wegstap, ontken – nie langer die lus, vrymoedigheid of taal het om soos Paulus sonder skroom en terughouding te sê: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding …” (Rom 1:16).
O Here, help ons vandag om opnuut die krag van die evangelie te ontdek, te beproef en sonder skaamte te deel. Amen
Carel Anthonissen