Boodskap vir Vandag

Search

‘n Verlies wat heilsaam is

Wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou (Markus 8:35).

Die opdrag van Jesus dat ware dissipels bereid moet wees om hulleself te verloën, hulle kruis op te neem en Jesus te volg, het my lank met ‘n bepaalde ongemak gelaat.

Die rede? Omdat ek daarin die einde van my eie, unieke identiteit vermoed het. Die einde van wat spontaan en natuurlik in my geleef het. En wat ek nou in ‘n daad van selfpyniging en grootskaalse opoffering moes aflê en prysgee.

Dit was eers later vir my duidelik dat die selfprysgawe waartoe Jesus ons roep, eerder die aftakeling en stroping van ‘n valse, onegte en oppervlakkige self behels. Dit is daardie self of ego wat sy lewe vir homself wil behou (Mark 8:35). Wat die hele wêreld as soeke na wins benader (Mark 8:36).

En wat dus steeds angstig bly sug na erkenning en aanvaarding, reputasie en mag.

Wie die Man van Nasaret egter ken, is bevry van hierdie ongesonde sug en verlange. Hulle weet én glo dat wie sy lewe vir homself wil behou, dit ewe maklik kan verloor. Terwyl wie sy lewe vir die lydende Christus en die evangelie verloor, sal dit behou.

Kortliks: Hulle weet van ‘n verlies wat heilsaam is.

Here, help ons vandag om ons lewe in diens van U te verloor en só nader aan u doel vir ons lewe te kom. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.