Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Hy is die ware beeld van God

Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie (Kolossense 1:15).

Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak … Jy mag hulle nie vereer of dien nie… (Exodus 20:4-5).

Die tweede gebod, naamlik dat ons geen beeld of afbeelding van God mag maak of mag dien nie (Ex 20:4-5), het ‘n meer eietydse boodskap as wat ons dink.

Dit waarsku teen die versoeking om God (en ook sy Naam) in ons aanbidding en uitlewing van die geloof, so te lokaliseer en te beheer dat God nie meer God is nie – dit wil sê, ‘n onbegryplike misterie wat enige beeld wat ons van God mag hê, voortdurend oorstyg en relativeer.

Die God van die Bybel, so hoor ons oor en oor, is ‘n vrye, soewereine God wat Hom nie deur menslike geite, grille en voorkeure laat vaspen of voorskryf nie. Hierdie God ontmoet en verras (ja, verander ons selfs) op maniere en plekke waar ons dit die minste verwag.

Presies soos die God van Jesus kom doen het. Jesus is, in die woorde van Paulus, die ware beeld van God (Kol 1:15). In Hom sien ons die bloeiende hart van God vir mense soos ons.

Wie hulle eie beelde van God skep of ontwerp, veral in hulle koppe of verbeelding, span God gewoonlik in vir hulle eie selfsugtige en dikwels gewelddadige doelwitte.

Hoe duidelik sien ons dit nie vandag by radikale religieuse groepe nie. Hoewel, ook óns moet in ons sogenaamde onskuld versigtig wees hoe ons oor God dink of praat.

O Here, bewaar ons vandag daarvan dat ons ongesonde beelde of voorstellinge van U koester. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.