Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Geen romantiese ideaal

Die Israeliete het hulle reis toe van die Sinaiwoestyn af verder voortgesit (Numeri 10:12).

Dié week se stof vir nadenke en meditasie kom uit die boek Numeri – meer spesifiek, Numeri 21:4-9. Dit is die eienaardige verhaal oor die genesende krag van ‘n koperslang.

Toe ek ‘n vriend hiervan vertel, was sy eerste reaksie: “Die boek Numeri klink vir my maar redelik droog. En wat die storie van die koperslang betref: dit is nou éérs vreemd en grieselrig” (“weird”, was sy woord).

Inderdaad kom die boek Numeri uit die vreemde en bykans vergete woestynperiode van Israel se geskiedenis. Tog bevat dit momente wat eg menslik is en waarmee ons vandag nog kan identifiseer.

Ook waaruit ons kan leer.

Oor die boek Numeri skryf Eugene Peterson dat die geskrif ons summier in die pyn en verwarring van grootword dompel. Want ná die bevryding uit Egipte – wat ‘n soort geboorte-uur was – moes Israel soos ‘n jong kleuter leer om groot te word, om voor God se aangesig tot ‘n selfstandige volk en gemeenskap te groei. En dít was nie altyd maklik nie. Dit moes te midde van veel spanning en twis, opoffering en pyn gebeur.

Wie egter in die geloofslewe wil groei, sal altyd hiermee moet reken: Die geloofspad is nooit ‘n romantiese ideaal of ‘n aangename soort uitstappie nie. Dit is ‘n lydensweg wat, soos met Israel en op voetspoor van Jesus, dikwels deur die spreekwoordelike woestyn loop.

Numeri 21:4-9 sal ons in die komende week verder hieraan herinner.

Here, lei U ons vandag om te midde van swaarkry, steeds in ons geloof te groei. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.