Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê (Johannes 3:14-15).
Die opdrag van God aan Moses in Numeri 21:8 om as redmiddel vir Israel ‘n koperslang te maak en dit op ‘n paal te sit, doen vreemd aan.
Nóg vreemder is wanneer Jesus in Johannes 3 dieselfde storie gebruik om die unieke aard van sy verlossings- of reddingswerk te illustreer. Byna asof Hy dieselfde rol as die slang van Numeri 21 vervul.
‘n Bietjie agtergrond sal hier kan help.
In ‘n onlangse boek oor ou slangverhale, “Die ding in die riete”, saamgestel deur Jean Lombard en ingelei deur Antjie Krog, word boeiend en verhelderend oor die rol van slange in veral die primitiewe wêreld geskryf.
Die slang– so skryf Krog in haar inleiding – blyk die dier te wees wat die meeste in die mensdom se mitologieë gebruik is. En alhoewel meesal gesien as vreesaanjaend en boos, het die slang dikwels ook – onder andere as gevolg van sy vervelling – vrugbaarheid en vernuwing gesimboliseer.
Dit is dan by hierdie meer positiewe mitologiese beskouing van die slang wat Jesus aansluit wanneer Hy die koperslang-episode in verband bring met sy uiteindelike verhoging en die genesende krag wat daarin opgesluit is.
Soos met die volk in die woestyn, word ons in die Lydenstyd opgeroep om opnuut ons oë, saam met ons verwagtings en drome, op die Gekruisigde, wat ook die opgestane en verhoogde Here is, te rig.
Want in dié geloofsdaad skuil daar inderdaad redding en heling.
Here, ons rig vandag opnuut ons oë op U – U van wie ons redding is. Amen
Carel Anthonissen