Moet tog nie ver van my af bly nie, o God (Psalm 71:12).
Die afgelope week kuier ek saam met ‘n kollega en sy vrou uit die Noorde.
‘n Vriendin van hulle is saam. Sy is ‘n kliniese sielkundige wat hulle vroeër jare op ’n toer na Indië ontmoet het.
Ons kuier lekker en praat oor allerlei – onder andere oor die toer en hulle ervarings daar. Ook oor wat hulle alles van dié land se godsdiens geleer het.
Die vraag na hoe mense oor die godheid dink, en veral hoe en waar God ervaar en geken kan word, duik onvermydelik op. Dit word ʼn heel boeiende gesprek. Ons deel ons ervarings in dié verband. Ek besef weer eens hoe belangrik, maar ook omstrede, dié vraag vandag geword het.
Want vir baie maak die Godsvraag nie meer saak of sin nie. Is dit totaal oorbodig – byna soos dié man wat grappenderwys, maar met dodelike erns, beweer: “Ag, lank voor Nietzsche het ek al geweet God is dood.” Of soos die skrywer, Terry Pratchett, in sy prettige boek “Small Gods” aanvoer dat die gode maar produkte van ons verbeelding is. Sodat hulle aansien, krag en invloed direk eweredig is aan die aantal aanhangers wat hulle het.
Hoe ons ook al daaroor dink of daaroor stry – die vraag na die godheid en of ons God regtig kan ken, sal nie sommer weggaan nie. Trouens, dit bly die moeite werd om met dié vraag besig te bly.
Here, U bly ‘n groot, onpeilbare misterie. Help ons om nooit uit vrees of onverskilligheid van U weg te draai nie. Help ons om U beter te leer ken. Amen
Carel Anthonissen