Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is (Romeine 1:20).
Vir die Bybel is die kennis van God nie iets wat ons in ons verbeelding optower of uit onsself kan voortbring nie.
Dit kóm na ons toe. Dit word gegéé. Dit is die resultaat van die wonderlike waarheid en ontdekking dat dit God is wat God met mense bemoei en aan hulle bekend maak. Dit wil sê, God openbaar of onthul God self.
Hierdie openbaring of onthulling van God aan mense lê op verskillende vlakke.
Om mee te begin, so getuig Paulus in die Romeinebrief, kan ons die goddelike openbaring ervaar. Ons kan veral die krag en misterie daarvan in die skepping sien en daaruit leer ken. Dit wil sê, in die wonder van die natuur, die diereryk, ja, ook in die onbegryplik en immer uitdyende heelal waarvan ons deel is en wat ons so groots en asemrowend omring, leer ons God ken. Dit alles getuig van God se werke.
Trouens, Paulus maak die punt dat God op dié manier Godskennis vir alle mense bereikbaar gemaak het (Rom 1:19).
Die beroemde wetenskaplike, Stephen Hawking, suggereer verbasend genoeg dieselfde as hy dit stel dat daar één vraag is wat die mensdom nog nie goed kon uitpluis nie. Dit is die vraag waarom daar iets en nie niks is nie. As ons dít kan verstaan, so beweer Hawkins, sal ons die gedagtes van God ken.
Vir die Bybelskrywers was dié gedagtes reeds in die sigbare skepping af te lees. Lees maar net die wonderlike Psalm 104.
Here, dankie dat as ons goed kyk, ons u werke elke dag rondom ons kan sien. Ons verwonder ons vandag opnuut daaroor. Amen
Carel Anthonissen