Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal (Galasiërs 5:25).
Dié week vertel ‘n vrou van haar ervarings in Indië en hoe sy met één oorweldigende indruk teruggekeer het.
Dit is dat God ín ons is.
Dié indruk of uitspraak bevat natuurlik gevare. Dit kan maklik daartoe lei dat ons subjektiewe ervarings, ons wense en drome, gelyk gestel en selfs verwar word met die werk van God.
En God is tog altyd groter as dít.
Tog, wie mooi na die verhale van die Bybel luister, weet dat die vrou se uitspraak ook nie totaal die kol mis nie. Want die God van die Bybel, die God van Christus, werk inderdaad ook in ons binneste – in ons gewete, ons verlangens, ons gevoelens, ons verbeelding, ja, in ons sogenaamde hart.
Ons teks vir dié week wat handel oor die nuwe verbond, sê dit mooi: “Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê” (Jer 31:33). Sodat mense spontaan van binne-uit God se wil begin soek en uitleef.
Waaroor Jeremia hier praat, antisipeer reeds die wonderlike werk van die Heilige Gees waaroor die Nuwe Testament so vryelik skryf – die Gees wat ons innerlik sterk maak (Efes 3:16-19), wat in en deur ons bid (Rom 8:26), wat gestalte aan Christus in ons lewe gee sodat ons lewe meer vrugbaar en heilig is (Gal 5:22-24).
Weliswaar vra dit onderskeidingsvermoë om God se werk in ons binneste te bespeur. Maar die feit is: Ons het té lank hierdie dimensie van God se werk in ons lewe verwaarloos en misgekyk.
Here, dankie vandag vir dié wonderlike en onbegryplike waarheid dat U in ons woon en werk. Gee ons die onderskeidingvermoë om dit raak te sien. Amen
Carel Anthonissen