Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word … Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe” (Markus 14:27-28).
Die tekste vir dié week, te wete Markus 14 en 15, voer ons in die herinnering terug na die lydensweg van Jesus – ‘n pad wat eindig met sy teregstelling en sy tragiese dood aan die kruis.
Veral Markus 14 het ‘n interessante en troosvolle patroon.
Aan die een kant val die lig in die hoofstuk toenemend op die dissipels se vrees en ontrou. Eers faal al twaalf om sáám met Hom in Getsemane te waak (Mark 14:32-42). Dan verraai Judas Hom (Mark 14:44-46). En wanneer Jesus gevange geneem word, hardloop die meeste weg (Mark 14:50). Selfs die hardnekkigste volgeling, Petrus, laat Jesus uiteindelik in die steek (Mark 14:66-72).
Maar terwyl dit alles gebeur – en dit is die ander kant van Markus 14 – word Jesus se lojaliteit en trou aan sy dissipels ook toenemend onthul. Die hoogtepunt hiervan is sy laaste maaltyd met hulle wanneer Jesus sy beloftes aan hulle hernu (Mark 14:23-25), en boonop laat blyk: “Ek weet van julle afvalligheid, maar Ek sal terugkeer en in Galilea op julle wag” (Mark 14:27-28).
Hoe troosvol om dít in hierdie donker uur te hoor en vir onsself toe te eien. Terwyl ons, soos die dissipels, Jesus vandag ook op allerlei maniere verraai, verloën en selfs verlaat, bly Hy steeds aan ons vashou, gee Hy ons nooit prys nie.
Nooit nie!
Here, wat ‘n troos dat U ons nooit verlaat of prysgee nie. Daarvoor kan ons U vandag alleen maar loof en dank. Amen.
Carel Anthonissen