Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie” (Markus 14:71).
Hoe ons, net soos Petrus, ons geloof kan verloor en Jesus faal, word ontstellend in ‘n gedig “Verloëning” uitgedruk.
vanaand staan ék weer by die vuur,
skrik op van die ontstelde vraag:
jy is tog een van die span?
en iewers, net soos Petrus, protesteer
die hart en sprei die blos nog hoër as die vlam,
laai ergenis tot breekpunt op –
want wie wil buite wees waar afstand
en ‘n koue oog oorheers?
die winter swiep en slaan?
maar ernstig dan: ken jy nie sy gesig,
die plooie en die fyn sweet as Hy praat?
en kan jy voortgaan
om te plunder aan sy Naam,
terwyl Hy steeds in stilte langs
die kruispad knars,
en jy gesellig by die vuur
jou opstand fyn verguld?
Die vraag is: “Herken jy hierin iets van jouself?” En weet jy steeds dat Hy jou vergewe en ter wille van jóú langs die kruispad knars?
Here, dankie steeds dat U bly vergewe, ook wanneer ons U uit vrees verloën. Amen
Carel Anthonissen