Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding …(Filippense 3:10).
Ons betree vandag die laaste week van die sogenaamde Lydenstyd, ook bekend as die “Groot Lydensweek”.
Dit is daardie periode wat vanaf Palmsondag loop, oor Goeie Vrydag tot by Paassondag. Tradisioneel vorm hierdie week, met name die Paasnaweek, die hart van ons kerklike jaar.
Soos die bedoeling met die hele Lydenstyd was, bied hierdie week nog eens ‘n geleentheid vir hernude inkeer, stil word en nadenke – allereers oor die betekenis van die Christusfiguur se lyding en sterwe. Maar ook oor die verrassende getuienis van sy vermeende terugkeer uit die dood.
Die “Groot Lydensweek” is ‘n geleentheid om in die lig van hierdie dramatiese Christusgebeure die aard, rigting en kwaliteit van ons eie lewe nuut onder die loep te neem. Om goed na te dink oor wat werklik vir ons belangrik is. Oor watter drome, ideale en begeertes ons lewe elke dag dryf en kleur.
Want sien, dié week, met name die Paasnaweek, wil veel méér as net ‘n kort wegbreek- of vakansietyd wees. Dit wil veral as inspirasie dien vir ‘n nuwe soort styl of aanpak van lewe – een vol van die krag, hoop en liefde wat Christus se lewe gekenmerk het.
‘n Lewe presies soos wat Paulus in Filippense 3 verlang het.
Here God, leer my in dié dae daardie inkeer en stilte wat my nader aan U en aan myself sal bring. Amen
Carel Anthonissen