Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien? (Jesaja 53:1).
In Jesaja 53 – wat in die Nuwe Testament as ‘n direkte toespeling op Jesus se lyding vertolk word – sien ons die unieke manier en styl waarop God die nood van ons wêreld beredder.
Dit is só onverwags, só nuut en ongelooflik anders dat die skrywer tereg antisipeer dat min dit sal glo (Jes 53:1). Ook dat dit nasies uitermate sal verbaas. Selfs konings sprakeloos sal laat (Jes 52:15).
Want God, so skryf die profeet, toon sy mag nie deur weerwraak of geweld nie. Ook nie deur sosiale vertoon of politieke maneuvrering nie. Nee, God werk met liefde en versoening, met vergifnis en vryspraak, met ‘n krag wat troos en wonde genees.
En hierdie krag, so hoor ons, toon God deur die lewe en werk van ‘n weerlose en onaansienlike dienskneg – een wat ons pyn en stryd verstaan. Wat selfs vir ons dwalings en droogmakery instaan.
Al kos dit ook totale onbegrip, bitter lyding en pynlike verwerping.
Wie hierdie dienskneg se voorbeeld navolg, toelaat dat sy manier ook jóú manier word, raak soos Hy ‘n instrument van vrede in God se hand.
En hoe nodig het ons land nie vandag sulke mense nie! Mense sonder pretensie wat nie angstig soek na méér roem, mag, geld of invloed nie. Maar wat op ‘n stil en nederige manier bereid is om ander te dien, selfs – en dít is moeiliker – verantwoordelikheid vir hulle sondes en wangedrag te aanvaar.
Net soos die lydende Christus.
O Here, dankie opnuut vir Hom, u Seun en Dienaar, wat sy lewe gegee het sodat ons kan lewe. Help ons om vandag sy weg te volg. Amen
Carel Anthonissen