Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys (Efesiërs 1:12).
Onlangs, tydens die afsluiting van ‘n kursus, vier die deelnemers die nagmaal op ‘n ongewone, maar aangrypende manier.
Terwyl die leier die brood in kleiner stukke breek, noem die groep spontaan allerlei voorbeelde van gebrokenheid in hulle eie lewe en in ons samelewing – dinge soos eensaamheid, siekte, dood, verlies, geweld, korrupsie en verkragting.
Daarná ontvang elkeen ‘n stuk brood en mymer in stilte oor die gebrokenheid van die lewe. Waarna elkeen dit in die wyn kon doop en as ‘n teken van heling en nuwe vreugde sluk.
Ná die tyd noem een van die lede dat die groep gerus na dié ritueel, soos met die gebrokenheid, ook hulle ervarings van heling en nuwe vreugde méér pertinent kon noem en uitspreek.
Sy was reg.
Inderdaad vra die Lydenstyd dat ons, gedagtig aan die lydende Christus, ‘n wyle lank by ons gebrokenheid moet vertoef, by die laste van ons sonde, skuld en skaamte. Maar Goeie Vrydag loop uiteindelik op die onverwagse verrassing van Pase uit – die fees van Christus se opstanding en die viering van nuwe lewe, hoop, vryheid en vreugde wat daaruit voortvloei.
Ook hierdie vrugte van Christus se opstanding, moet ons in die Paastyd ontdek, noem en vier. Mense óm ons het dit nodig om hierdie goeie nuus te hoor.
Ook te hoor dat ons, soos Paulus, God daarvoor prys.
Here God, ons prys U vandag vir die goeie vrugte van Jesus se lyding en opstanding. En dat ons ook daaruit kan leef. Amen
Carel Anthonissen