Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die uitdoof van ‘n kers voor dagbreek

Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word … (1 Korinthiërs 15:53).

Die dood, dít moet ons toegee, bly een van die mees somber en dramatiese vooruitsigte van ons lewe.

En wie te lank by die gedagte van ons eindigheid as mense vertoef of oormatig daarop konsentreer, kan maklik in ‘n staat van permanente neerslagtigheid en sinisme beland.

Presies om dié rede is die opstanding van Jesus so ‘n troos. Want behalwe dat die getuienis oor Jesus se oop graf, die belofte van nuwe lewe ná die dood vir ons inhou, besweer dit terselfdertyd ook die verskrikking van die dood.

Ná Jesus se opstanding het die dood, soos Paulus so troosvol getuig, eenvoudig sy angel verloor (1 Kor 15:54-55), is dit vir die gelowige nie langer ‘n donker en angsvolle vooruitsig nie. Inteendeel, danksy Christus is die dood nou ‘n hoopvolle oorgang, die begin van ‘n nuwe soort lewe waar ons verganklike liggaam met onverganklikheid beklee word (1 Kor 15:53). En ons permanent in die lig van God se liefde en sorg kan vertoef.

Tereg het iemand hierdie meer hoopvolle perspektief op die dood só uitgedruk: “Death is not switching off the light. It is the blowing out of a candle because dawn has arrived.”

Here, onse Here, ons aanbid U vandag as die Opgestane, die Oorwinnaar oor die dood, die Een wat ‘n weg na nuwe lewe geopen het. Help ons om dit te bly glo. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.