Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Duideliker kan dit tog nie

Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle … (1 Johannes 1:3).

In ‘n wêreld waar mense alleen glo wat bewys kan word, het die geloof in Jesus, met name die boodskap oor sy terugkeer uit die dood, hoogs problematies en omstrede geword.

Die vraag is: “Hoe kan ons as moderne, denkende mense hierdie boodskap nog glo? En is daar iets wat ons daarmee kan help?”

Vir eers mag ons die getuienis van Jesus se dissipels en apostels in dié opsig nie onderskat of goedsmoeds verontagsaam nie. Wat hulle ervaar en met verwondering oorvertel het, bly die fondament en voedingsbron van ons geloof in die lewende Christus.

In ‘n sin is dit al wat ons het.

En dat hulle vertellinge boonop betroubaar en waar is – daaraan hoef ons nie te twyfel nie. Tensy ons hulle reguit as leuenaars of dromers verklaar.

Luister net weer met watter spontane oortuiging Johannes van Jesus getuig. Tot drie maal herhaal hy dit: “Ons het Hom self gehoor, met ons eie oë gesien, selfs met ons hande aan Hom geraak” (1 Joh 1:1).

Duideliker kan dit tog nie.

Here, dankie vandag weer vir die getuienis van die apostels oor U. Help ons om daaraan vas te hou wanneer die twyfel ons weer pla. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.