Heel laaste het Hy ook aan my, die misgeboorte, verskyn (1 Korinthiërs 15:8).
Dat daar iets gebeur het wat ná Jesus se dood sy beangste dissipels onverwags tot nuwe aksie en toewyding aangevuur het, sien ons nêrens duideliker as in die lewe van die apostel Paulus nie.
Trouens, die omslag in sy lewe was nie alleen onverwags nie, maar totaal verstommend.
Want een oomblik was hy nog ywerig op pad om meer Christene te vervolg en dood te maak. Net om kort daarna op sy knieë te beland, gereed om alles – sy posisie, status en aansien – prys te gee en sy eertydse vyande as vriende en nuwe familie te omhels.
Wat het hierdie merkwaardige verandering in Paulus se lewe gebring – ‘n verandering wat só dramaties en onwaarskynlik was dat die volgelinge van Jesus dit aanvanklik nie wou glo nie (Hand 9:21.26)?
In Handelinge 9, maar ook later in sy ander geskrifte, vind ons die antwoord: Die lewende Christus het Paulus op sy noodlottige pad van moord en verwoesting voorgekeer. In ‘n oomblik van dramatiese bevryding het Christus by hom ingebreek en tot ‘n apostel van liefde en genade verander.
Sodat Paulus van toe af net één wens, één droom, één strewe sou hê: Dit was om die lewende Christus beter te leer ken en Hom met nuwe oorgawe en ywer te dien (Fil 3:10).
Paulus is maar een van báie wat van hierdie merkwaardige omslag eerstehands beleef het.
O Here, laat my vandag ook weer soos Paulus uitroep: Al wat ek wens is om U, die lewende Christus, beter te leer ken. Amen
Carel Anthonissen