As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie (1 Johannes 1:8)
Die Duitse filosoof, Ludwig Feuerbach, kan as die vader van die moderne kritiek op religie gesien word.
Met sy siening dat die konsep van God niks méér is as ‘n projeksie van die mens se eie kwaliteite en drome nie, het hy die weg vir baie mense geopen om religie as ‘n nuttelose aktiwiteit af te maak, selfs ‘n foefie van die mens om sy eie verantwoordelikhede te ontduik.
Dat daar waarheid in sy sieninge skuil, is nie te ontken nie. Want inderdaad is baie van ons godsbeelde uitdrukking van ons eie subjektiewe verlangens en wensdrome. Ook ‘n manier om weg te vlug van ons probleme.
En tog het Feuerbach se teorie ook swakhede. Duidelik word dit uitgewys deur ‘n wonderlike artikel van die befaamde teoloog, Karl Barth, wat as ‘n voorwoord in Feuerbach se bekende boek “The Essence of Christianity” opgeneem is.
Volgens Barth is die keerkant van Feuerbach se kritiek op godsdiens ‘n duidelike oorskatting, selfs ‘n verheerliking van die mens se vermoë om sy eie lewe te beredder en sin daaraan te gee.
Wat Feuerbach, aldus Barth, nie goed raakgesien het nie, is dat die mens, ondanks sy prestasies, ook – in tradisioneel godsdienstige taal gestel – sondaar en skuldige medewerker aan die chaos en die boosheid van ons wêreld is. En dat die mens daarom genade, ja, altyd weer genade, vergifnis en redding nodig het – en dus ‘n soort geloof in iets groters as die mens self.
Wie eerlik oor sy eie lewe en die wêreld om ons nadink, behoort dit wat Barth hier sê, te weet. Ook te weet dat wie dit ontken, hulleself – in die woorde van die apostel Johannes – grootskaals bedrieg.
O Here, vergewe ons ons sondes. En hoor ons waar ons vandag weer tot U om genade roep. Amen
Carel Anthonissen