Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring (Handelinge 9:27).
Barnabas – die een wat ander kon bemoedig – se vermoë hiertoe, asook sy bereidwilligheid om grense oor te steek en vir ander in te tree, word nêrens mooier geïllustreer nie as in sy geskiedenis met Saulus, wat later Paulus genoem is.
In Handelinge 9:26 lees ons hoe moeilik dit aanvanklik vir die volgelinge van Jesus was om Saulus ná sy dramatiese bekering as een van hulle te aanvaar. Daarvoor was sy terreurdade teenoor hulle eenvoudig té groot. Ook té vars in die geheue.
Sy naam het vrees opgeroep, en hulle het moeilik aan sy storie van verandering verteer.
Totdat Barnabas hom oor Saulus ontferm en na die apostels gebring het. En hulle toe oortuig het van die egtheid van sy bekering. Sodat die apostels Saulus nie net aanvaar het nie, maar kort daarná ook teen die dood beskerm het (Hand 9:30).
Wat ‘n wonderlike storie van waagmoed en bemiddeling, van vergifnis en aanvaarding!
In ons land waar mense mekaar toenemend wantrou en selfs vreemdelinge verjaag en vermoor, benodig ons dringend hierdie gees en instelling van Barnabas.
Wat natuurlik niks anders as die gees van die lewende Christus is nie!
Here, gee ons vandag opnuut die gees van Barnabas – hy wat bereid was om uit te reik en hom oor die vreemdeling te ontferm. Amen
Carel Anthonissen