Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het (Handelinge 15:39).
In Handelinge 15 lees ons van een van die pynlikste episodes in die geskiedenis van die vroeë Christelike kerk.
Dit is wanneer Paulus en Barnabas ná ‘n skerp verskil oor Markus – een van hulle medewerkers – besluit om van mekaar te skei.
Wat die episode so hartseer maak, is dat Paulus en Barnabas tot op daardie stadium bykans onafskeidbaar was. Sáám het hulle die eerste sendingreis deur klein Asië aangepak (Hand 13). Sáám het hulle die evangelie van plek tot plek verkondig. Sáám is hulle vervolg en het hulle swaargekry (Hand 14). Sáám het hulle gestry dat Grieksprekende heidene ook ‘n plek in die kerk kry (Hand 15).
En nou hierdie hartseerskeiding.
Kan ons iets hieruit leer? Ja, waarskynlik dít – dat ons lewe met mekaar en ander mense onder die beste omstandighede steeds broos, onaf en onvoorspelbaar bly. Sodat selfs die bestes, die vroomstes en die naastes onder ons die pad kan verloor, kortsigtig, ongeduldig, jaloers en onverdraagsaam kan raak, verhoudings kan verydel, die gemeenskap kan skend – en uiteindelik selfs weë kan skei.
Dit is ‘n werklikheid wat daagliks rondom ons afspeel en wat ons gedurig in die oë moet kyk. En tog, as gelowiges mag ons nooit hierin berus nie. Vervreemding en skeiding mag nie die reël of maatstaf word nie.
Die pad kán en móét altyd verder kan loop. Want die belofte van vergifnis en nuwe lewe geld steeds.
O Here, vergewe ons vandag weer die ongeduld en onverdraagsaamheid wat tot skeiding en vervreemding kan lei.
Carel Anthonissen