Maar Paulus het gedink dit is nie reg om die man saam te neem wat hulle in Pamfilië verlaat het en nie end-uit die werk saam met hulle gedoen het nie (Handelinge 15:38).
Wat kon tog die rede wees dat twee goeie vriende en toegewyde gelowiges soos Paulus en Barnabas – wat etlike jare saam ‘n spreekwoordelike sak sout opgeëet het – só hewig kon verskil dat hulle besluit het om te skei?
Hieroor is al heelwat gespekuleer.
‘n Vriend – nadat ek hom die hartseerverhaal vertel het – suggereer dat dit iets te make kon hê met die ywer en ongeduld van ‘n nuut bekeerde.
Dit is nie onmoontlik nie, want ná sy dramatiese bekering, kom daar – so lees ons in Handelinge – ‘n ongekende drif in Paulus se lewe los. Een wat hom dadelik en byna roekeloos die sinagoges laat binnevaar. Ook kort daarná op drie sendingreise neem om oraloor te verkondig dat Jesus die Seun van God was. En dat álmal sy redding en vergifnis benodig.
Só sterk was hierdie drif en ywer vir die evangelie, dat dit Paulus by tye ongeduldig, selfs onverdraagsaam gemaak het teenoor hulle wat minder toegewyd was as hy. Of wat, soos Markus, op ‘n stadium eenvoudig moeg geraak het en ‘n rukkie wou uitsit.
Dus, hoewel ons Paulus kan bewonder vir sy onvermoeide ywer, bevat sy lewe ook ‘n waarskuwing. Dit is dat ons waaksaam moet wees om nie ander met óns soort vroomheid of ywer te vervreem of selfs te veroordeel nie.
Want God gebruik mense op verskillende maniere.
O Here, gee ons daardie verdraagsaamheid wat ander kan waardeer, ook al verskil hulle van ons. Amen
Carel Anthonissen