Barnabas het toe vir Markus geneem en met ‘n skip na Siprus toe vertrek (Handelinge 15:39).
Behalwe vir Paulus se ongeduld met mense soos Markus wat nie sy unieke pas en werksywer kon volhou nie, was daar ook ander redes vir die hartseerskeiding tussen hom en Barnabas.
Uit die Bybel blyk dit dat Markus nie net ‘n neutrale medewerker was nie.
Hy was Barnabas se vertroue en geliefde nefie. En bloed, so weet ons, is spreekwoordelik dikker as water. Wat beteken ‘n mens gee nie sommer jou familie prys of laat toe dat ander hulle beledig, verontreg of afskryf nie.
Selfs al maak hulle droog, bly mense gewoonlik lojaal aan hulle familie.
Maar méér nog: In ooreenstemming met sy sagter en simpatieker benadering teenoor mense, is dit geensins onmoontlik nie dat Barnabas, welwetende dat sy nefie Markus hulle op ‘n kritieke tydstip in die steek gelaat het, sy situasie verstaan en hom nie so hard geoordeel het nie.
In die woorde van een kommentator: “Miskien het Barnabas geweet dat Markus se mislukking of sy traagheid om enduit by hulle te bly, nie noodlottig was nie. En dat mense, ja, elkeen van ons, ‘n tweede kans verdien.”
Om dié rede verlaat hy Paulus en vertrek saam met Markus na Siprus – huis toe.
Stem jy saam? – Barnabas bly vir ons in dié opsig ‘n wonderlike voorbeeld.
O Here, bewaar ons daarvan om mense af te skryf. Help ons om soos Barnabas, ja, soos U, altyd ander ‘n nuwe kans te gun. Amen
Carel Anthonissen