Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou, want hy kan my tot groot diens wees (2 Timoteus 4:11).
Na sy tragiese skeiding met Paulus hoor ons vreemd genoeg nie meer van Barnabas nie.
Miskien het hy intussen gesterwe of gaan aftree in sy geboorteland Siprus – ons weet nie.
Wat ons wél weet – en dít is so verrassend – is dat die geskiedenis tussen Paulus en Barnabas nie hier eindig nie. Want op drie plekke – ‘n mens kan dit amper latere voetnotas by die Paulus-Barnabas-sage noem – word daar onverwags weer na Markus, die een wat die twis tussen Paulus en Barnabas veroorsaak het, verwys.
In Filemon 1:24 noem Paulus Markus ‘n medewerker. Wat daarop dui dat Markus later weer deel van sy span geword het.
In Kolossense 4:10 verwys Paulus uitdruklik na Markus as Barnabas se nefie en versoek hy die gemeente om hom gasvry te ontvang. So asof Paulus wou seker maak dat hulle wéét: die verhouding tussen hom en Markus was herstel.
En uiteindelik in 2 Timoteus 4:11, aan die einde van sy lewe, skryf hy aan Timoteus: “Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou, want hy kan my tot groot diens wees.”
Al hierdie tekste of voetnotas wys op één ding: dat Paulus op die ou einde tog erken het dat Barnabas ten opsigte van Markus reg en hy verkeerd was. Belangriker nog: die hartseerverhaal wys hoe die gees van Barnabas – dit is die gees van verdraagsaamheid en versoening teen alle verwagtinge in geseëvier het.
En vandag nog kan seëvier.
Here, laat die gees van verdraagsaamheid en versoening vandag tog sterker in ons groei as die gees van ongeduld en haat. Amen
Carel Anthonissen