Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes (1 Johannes 4:10).
Dié week se teks kom uit die eerste brief van Johannes.
Dit is gebore in omstandighede wat ons ken, naamlik dié van verskeurdheid en verwarring in ‘n gemeenskap. Om dit te beredder, herinner Johannes sy lesers – en dit sluit ons in – aan die oudste deug ter wêreld, naamlik die liefde.
Want sonder die liefde, verdiep die klowe tussen mense, groei die vrees, argwaan en haat onkeerbaar en gaan ‘n gemeenskap gou te gronde.
Dít moet ons weet. Ook dat die liefde nie maklik of vanselfsprekend is nie.
In dié verband vermeld Johannes twee dinge van die egte liefde. Allereers is dat dit ‘n duur geskenk of gawe is. Loretta Young druk dit só uit: “Liefde is nie iets wat jy vind nie. Die liefde vind jou.”
Ondubbelsinnig beaam Johannes dit: Die werklike liefde ontspruit nie aan ons nie. Dit kom van God. God skenk dit aan ons deur sy Seun as ‘n gebaar van vergifnis en versoening te stuur (v 7, 10).
Die groot vraag bly of ons dit weet en glo. En of ons bereid is dat hierdie liefde ons lewe elke dag rig en kleur.
Want ook dít kom nie altyd maklik nie.
O Here, dankie vir u liefde wat ons gevind het, en wat vandag nog na ons uitreik. Laat dít, méér as ons ambisie en selfsug, ons lewe rig. Amen
Carel Anthonissen