Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is (Romeine 12:9).
Onlangs woon ek ‘n bespreking van Thomas Piketty se gewilde en opspraakwekkende boek “Capital in the twenty-first century” by. Piketty, so voer die gespreksleier aan, probeer in sy boek die wetmatighede van die kapitalisme – die ekonomiese sisteem wat tans ons kultuur domineer – peil.
Hy probeer veral verstaan waarom dit tot soveel ongelykhede lei – en watter verstellings gemaak kan word om dit te oorkom.
My akademiese vriende wat die boek bespreek, is nie tevrede met alles wat Piketty skryf nie. Volgens hulle vertrou hy te veel dat die sisteem homself in terme van sy eie wette eers sal vasloop en daarna sal korrigeer. En só die aankoms van ‘n meer regverdige samelewing sal meebring.
Vir hulle is daar té veel ander veranderlikes wat die sisteem se gang kan beïnvloed en selfs verander. Hiervan is die relatief onvoorspelbare reaksies en optredes van mense – die sogenaamde gaping vir eie-inisiatief en vryheid – een van die belangrikste. Die geskiedenis wys dit uit hoe mense instellings of sisteme kan bevraagteken en verander.
Hierin skuil hoop. Want terwyl sommige hierdie gaping vir eie inisiatief en vryheid kan misbruik om onregverdige sisteme te skep en met brute mag in stand te hou, of om gevestigde instellings roekeloos af te breek, gee dit geleentheid vir ander wat die heil van almal op die oog het om hierdie sisteme meer konstruktief te help hervorm.
Al is dit deur klein, maar kragtige dade, kan dit gebeur. Solank hulle gevul is met liefde en ‘n spoor van hoop en geloof agterlaat. Presies soos wat die gelowiges in die eerste eeue gedoen het.
Is dit nie waartoe ons as gelowiges vandag weer geroep word wanneer die gevoel van frustrasie en magteloosheid dreig om ons te oorweldig nie?
O Here, gee ons vandag die moed en krag om daardie gapings vir inisiatief om ons land ten goede te verander, voluit aan te gryp. Amen
Carel Anthonissen