By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” (Handelinge 2:37).
‘n Ruk gelede het daar bykans ongemerk ‘n belangrike beweging met die interessante naam AHA ontstaan.
AHA verwys na ‘n ervaring van nuwe vryheid en insig wat mense gewoonlik met verbasing en groot entoesiasme vul en laat uitroep: “Aha!”
Hulle ook lus maak om iets positiefs en inspirerends te gaan doen. Iets wat ‘n verskil aan die lewe en stemming van ‘n hele gemeenskap kan maak.
Die beweging het ontstaan uit ‘n besorgdheid onder gelowiges oor die drie groot kwessies van ons land, te wete armoede, werkloosheid en ongelykheid. Die vraag was: Watter bydrae kan gelowiges maak om die nood hier te verlig? Want ons weet tog: As ons hier nie beter vaar nie, sal ons toekoms onseker bly.
Ons weet ook dat dit nóú die tyd vir gewone mense is om iets hieraan te doen. Om veral goeie stories hieroor te skep en te vertel.
Die visie is om binne die volgende paar jaar, soos met die groot volkskongresse van vroeër, indabas regoor die land te hou waar mense die kans kan kry om verhale te hoor, opinies te lug, nuwe lesse te leer – en veral gelei te word tot nuwe verbeeldingryke aksies en inisiatiewe. Trouens, die eerste indaba is reeds eerskomende Vrydag, 15 Mei, by die Universiteit van Wes-Kaapland.
Ons ken die beskuldiging dat die profetiese stem van gelowiges stil geword het. In AHA hoor ons goddank – en soortgelyk aan Handelinge 2:37 – ‘n nuwe ontwaking van hierdie belangrike stem en getuienis.
As gelowige hoort jy by dié, of ’n soortgelyke, beweging.
Here, dankie vandag vir bewegings soos AHA wat ‘n verskil aan ons land wil maak. Help my om vandag ook my bydrae te maak! Amen
Carel Anthonissen