“… want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof (1 Johannes 5:4).
Soveel van ons gesprekke vandag draai om die probleme van ons land – oor swak regering, Eskom se gebrekkige kragvoorsiening, die ongehoorde korrupsie, selfverryking, onverskilligheid, diefstal en moord.
Noem maar op – die lysie is byna oneindig.
‘n Mens verstaan hierdie fiksasie op ons probleme – dit het al byna ‘n nuwe tydverdryf geword. Die gevaar is dat ons vasval in hierdie donker kante van ons land se groeiende geskiedenis. Dat ons heeltyd daaroor kla, ons oorgee aan die woede en frustrasie, ja, selfs nie langer omgee oor wat met ons land of ons eie lewe gebeur nie.
Die ergste is presies dít: dat ons moed en hoop kan verloor. Nie meer glo dat dinge wel ten goede kan verander nie. En belangriker nog: nie meer vertrou dat God steeds in beheer is en steeds die geskiedenis, ook van Suid-Afrika, in sy hande hou nie. En dat God van ons verwag om getrou te wees. Op ons pos te bly. Te doen wat ons hand vind om te doen. Ons roeping uit te leef – en dit met oorgawe, entoesiasme en selfs blydskap.
Ook met die vaste geloof dat ons, juis omdat die God van Jesus die geskiedenis rig en dra, die kwade met die goeie kan oorwin.
Is dit nie presies waaraan Johannes ons in sy eerste brief wil herinner nie: dat enigeen wat ‘n kind van God is, die sondige wêreld kan oorwin nie? (1 Joh 5:4).
O Here, wat ‘n troos vandag om te weet dat U in beheer is en dat ons as u kinders saam kan bou aan u koninkryk. Gee ons daartoe vandag weer die krag en die geloof. Amen
Carel Anthonissen