Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is (Romeine 8:16).
Die verrassing van hemelvaart is dat Jesus ons nooit werklik verlaat het nie.
Nee, as ons die getuienis van die dissipels kan glo, is Jesus selfs nou nader aan ons as tydens sy aardse omwandeling, leef en werk Hy deur sy Gees nou elke dag, elke oomblik ín ons.
Of ons dit kan waarneem of ervaar? Natuurlik kan ons!
Wanneer alles teen ons draai sodat ons begin twyfel … en ons nog steeds die spoor van vertroue in ons lewe ontdek – ‘n spoor wat ons laat roep na God – dan weet ons: die Gees werk in ons lewe. Want só skryf Paulus: die Gees is die een wat saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is. Al is dit dikwels ook sugtend en klaend (Rom 8:16, 26).
Wanneer ons nog eens faal of oortree, die kosbare lewe wat God ons gun, verloën … en ons gewete ons genoeg pla sodat ons opstaan en besluit om ‘n nuwe begin te maak – dan weet ons: die Gees werk in ons lewe. Want dit is die Gees, so hoor ons Paulus bid, wat aan ons die krag gee om innerlik sterk te word (Efes 3:16).
Dit is geensins vreemd dat Jesus by sy hemelvaart oor sy dissipels geblaas het nie (Joh 20:22).
Want só het hy die Heilige Gees losgelaat oor hulle en oor ons lewe.
Heilige Gees, dankie dat U in ons werk. En dat ons dit vandag mag waarneem in ons gewetens wat pla, ook die onrus wat ons telkens na God dryf. Amen
Carel Anthonissen