Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus (Galasiërs 6:2).
Die klein dingetjies help tog om verhoudings te bou.
Dit besef ek weer nou die dag toe ek die geleentheid gegun word om ‘n medemens te help.
Hy was ‘n swartman wat sy weg in ‘n oorheersend wit woongebied verloor het. Hy was alreeds vyf minute laat vir sy afspraak en het benoud buite die sekuriteitskompleks waar ons woon rondgetrap.
Dit is waar ek hom in sy penarie aangetref het.
Sy angstige gesig het gewys dat hy verdwaal was. Ná ‘n kort gesprek, blyk dit dat sy bestemming redelik naby was. Trouens, dit was om die draai, maar is al meermale met ons kompleks met ‘n soortgelyke naam verwar. Ek weet van die verwarring en kan hom help – selfs ‘n oproep maak om die wagtendes te waarsku dat hy op pad is.
Die verligting op sy gesig en die bewende stem waarmee hy my hierna oor en oor bedank het, is nou nog vars in my geheue. Dit het my bly gemaak en hom natuurlik op ‘n vroliker weg geplaas.
Ook weer gewys dat die brug na ander mense, hoe klein ook al, nie so moeilik is om te bou en oor te steek nie.
Here, dankie vir geleenthede om ander se laste te dra en U so te dien. Amen
Carel Anthonissen