Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons'” (Esegiël 37:11).
Een van die ironiese paradokse in die lewe is dat ‘n mens, terwyl jy fisies springlewendig en fiks is, innerlik en emosioneel totaal verlam, ja, selfs morsdood kan wees.
Ons lees daarvan in Esegiël 37 waar die Gees van God die profeet Esegiël in ‘n laagte of ‘n vallei vol droë en dooie bene inbring.
Die bene in die hoofstuk is ’n beeld van die geestelike en emosionele toestand waarin Israel hulle op daardie stadium tydens die Babiloniese ballingskap bevind het. Weggevoer en onteien van hulle erfenis, hulle land en al sy kosbare tradisies, voel Israel in dié tyd totaal bedremmeld, sonder enige identiteit of hoop vir die toekoms.
Hoor net hoe kla hulle in vers elf: “Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.”
In dié neerdrukkende atmosfeer van Babilon het Israel se lewe letterlik ‘n graf geword. Al het hulle nog asem gehaal, was die algemene gevoel: Ons lewe is verby.
Hoeveel van ons ken nie ook dié gevoel nie – dat ons lewe verby is, dat daar geen hoop vir môre is nie?
Maar is dit so? Miskien moet ons verder lees en dink.
Veral ook kyk!
Here, dit ís so – party dae voel ons soos Israel, uitgewas en moeg, nie meer lus vir die dag van môre nie. Moet ons tog nie in sulke tye vergeet nie. Sterk asseblief ons hoop. Amen
Carel Anthonissen