Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene!” (Esegiël 37:4).
Behalwe dat ons volgens Esegiël 37:1-14 geroep is om ons eie waarde as mens gedurig te ontdek en só regop teen die winde en aanslae van die lewe te begin loop, het ons ook ‘n verdere plig.
Dit is om ander hiermee te bedien. Om só te leef dat ander ook in hulleself en ander mense glo. Ook met nuwe waardigheid, entoesiasme en oorgawe sal leef.
Dit was die taak waartoe God Esegiël geroep het. En waartoe die evangelie ons vandag wil aanpor. Dit is om as profete teenoor sy moedelose en verslae volk op te tree. Vir God was hierdie opdrag dringend.
Tot vier maal toe hoor ons die uitdrukking in hierdie relatief kort gedeelte: “Tree op as profeet vir hierdie bene …” (Eseg 37:4).
Om ‘n profeet te wees, beteken nie dat ons oornag ‘n podium of seepkis moet bestyg en groot toesprake of verklarings hoef te doen nie. Nee, ons alledaagse lewe moet eenvoudig ‘n ander, nuwe taal begin praat.
Die manier waarop ons optree en praat, onsself gedra, moet vertel van vriendelikheid en liefde, geduld en verdraagsaamheid, positiewe hoop. Selfs al kos dit selfbeheersing en die vermoë om gereeld te vergewe.
Só word ons profete vir ‘n verslae en moedelose samelewing.
Here, U het soveel aan ons gegee. Help ons om dit te deel met ander. Amen
Carel Anthonissen