Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Nou dat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen” (Jesaja 6:7).
Dit klink tog ongelooflik, selfs onmoontlik, dat daar ‘n God bestaan wat elkeen van ons ken en kan roep.
Wie al hoog vanuit ‘n vliegtuig afgekyk en gesien het hoe klein en onbenullig ons as mense daar ver onder woel en werskaf, sal weet. En tog is dit presies waarvan Jesaja 6:1-8, vertel.
In dié gedeelte hoor ons aanvanklik van ‘n onoorbrugbare kloof tussen God en mens. Voor die heilige God is die mens, in die gestalte van Jesaja, inderdaad klein en nietig. Té klein en ook hopeloos té onwaardig om God te ontmoet.
Of om sonder skaamte of skuld voor God regop te staan.
Totdat die onmoontlike gebeur. Wanneer die grote God afbuk om Jesaja aan te raak, hom te reinig en tot sy diens te roep.
Ongelooflik! En tog is dít die heilige waarheid waarvan die Bybel oor en oor getuig: Dat God ons elkeen persoonlik ken. Daagliks met ons wil moeite maak. En dat ons lewe daarom ‘n doel en ‘n rigting het of kan kry.
Die vraag bly: Weet jy dit? En kan jy as moderne mens dit hoegenaamd glo?
Jesaja kon, kan jy?
Dat U, Here, ons ken en wil gebruik, bly ‘n onpeilbare misterie – een waarvoor ons alleen in dankbare verwondering kan buig. Amen
Carel Anthonissen