Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here (Psalm 24:1).
Eerskomende Sondag vier ons Omgewingsondag.
Die bedoeling van hierdie dag is om mense van die wonder en kosbaarheid van ons omgewing bewus te maak. Ook om ons verantwoordelikheid as bewaarders van God se skepping te beklemtoon.
In dié verband is daar ‘n belangrike vraag wat ons almal gedurig behoort te stel – ‘n vraag wat die aard van ons omgang met die omgewing sal bepaal.
Die vraag is: Watter spoor laat jy vandag in jou optrede teenoor alles en almal na? Is dit ’n spoor wat minag en vernietig, een wat die fyn tapisserie van die omgewing, ja, van God se kosbare skepping kan skend en verinneweer?
So asof alles aan jou behoort en jy daarmee kan maak wat jy wil.
Of betree jy hierdie heilige terrein as ‘n besoeker? Een wat weet dat die aarde en alles wat daarop is aan die Here behoort? (Ps 24:1).
Sodat jy áltyd, ja, áltyd met verwondering en respek, met ‘n ligte tred en sagte hande met alles wat jou omring – mens, dier en plant – sal omgaan.
Dit is tog jou roeping.
Here, leer ons vandag opnuut dat ons besoekers aan en nie besitters van u skepping is nie. Maak ons spore sag en menslik. Amen
Carel Anthonissen