Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie.” (Markus 4:26-27).
Die gelykenis van die saad wat self groei, kan in ‘n tyd van verwarring en verwildering baie troos aan ons bied.
Want dit herinner ons dat, al lyk dit asof die geskiedenis tot ondergang en verval bestem is, God steeds in beheer is. Steeds op ‘n misterieuse wyse aan die werk is. Steeds besig is om, te midde van chaos en lyding, onreg en korrupsie, God se heerskappy te vestig. Sodat wat nou leeg en vervalle lyk, eendag weer vrugbaar en nuttig kan word.
Hierdie sekere en onverbiddelike gang van God se koninkryk, word in die kort gelykenis voorgestel deur die saad wat op sy eie ontkiem en vanself begin groei.
Wat nie beteken dat ons nie ook ‘n verantwoordelikheid het nie. Die troos in die gelykenis is egter dít: Wanneer ons getrou gesaai het, ons dagtaak nougeset volvoer het, ons maar mág ontspan. Ook getroos en rustig mág gaan slaap.
Want God werk – hóé, weet ons self nie.
Here, wat ‘n ongelooflike troos om te weet dat hoe sleg en vervalle dinge ook al lyk, U in beheer bly. U laat alles ten goede meewerk. Ons dank en loof U opnuut daarvoor. Amen
Carel Anthonissen