Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? Dit is soos ‘n mosterdsaadjie … as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante …” (Markus 4:30-32).
Met die beeld van ‘n mosterdsaad wat as die kleinste van alle sade mettertyd uitgroei tot die grootste plant in die tuin, wil Jesus ‘n verdere belangrike boodskap deurgee.
Een wat ewe troosryk is.
Dit is dat al lyk die gang van God se koninkryk, asook die lewe en getuienis van die kerk wat die koms van hierdie koninkryk moet bemiddel, baie dae klein en onbeduidend, selfs swak en onaansienlik, moet ons dit nooit onderskat nie.
Want daarin kan groot krag en nuwe ongekende moontlikhede skuil.
Kom ons maak dit méér persoonlik. Presies wanneer ons swak en onwaardig voel, nie langer in staat of opgewasse vir ons alledaagse verantwoordelikhede en pligte nie – soos om my huwelik en familie te red, die bekommernis oor my finansies hok te slaan, positief te bly oor ons land, te bly vertrou dat God werk nie – mag dit die uur wees wanneer God in en deur my magteloosheid groot dinge wil doen.
My ook tot nuwe bevrydende insigte wil bring. Sodat ek sal opstaan en my lewe weer bymekaar kry. Weer met blydskap en dankbaarheid begin leef.
Paulus het hierdie paradoksale geheim deur heelwat swaarkry en ontnugtering ontdek – dat wanneer hy ter wille van Christus swak is, is hy ook sterk.
Het jy al dié merkwaardige geheim ontdek?
O Here, leer my vandag weer die merkwaardige geheim van u koninkryk. Dat ek nie skaam hoef te voel oor my eie swakhede nie, maar deur u krag, soos Paulus, daarin mag roem. Amen.
Carel Anthonissen