Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry (Lukas 15:24).
In ‘n interessante meditasie oor Jesus se gelykenisse, loop ek ‘n belangrike onderskeiding raak – een wat vol betekenis is.
Dit is die onderskeiding tussen die begrippe “geworpenheid” en “geborgenheid”.
Geworpenheid suggereer dat ons as mense toevallig, sonder enige vaste bestemming of plan, die lewe ingewerp is – vry, maar ook weerloos as dit kom by die uitwerk van ons eie heil.
Die term geborgenheid sê die teenoorgestelde. Dit is dat ons as mense op aarde verwag word. Dat ons lewe ‘n doel het. En dat ons hiervoor geroep, gedra en versorg word.
Met name deur ’n hoër Hand.
Wat is nou die verband tussen hierdie begrippe en Jesus se gelykenisse?
Die meeste van die gelykenisse wil ons hiérvan bewus maak: Ons lewe op aarde verloop nie doelloos nie. Nee, ons lewe – so suggereer gelykenis ná gelykenis – word daagliks omring en gedra deur ‘n groter werklikheid en mag as wat ons kan waarneem of ervaar.
Dit is die mag van God se vergewende en helende liefde wat in Christus verskyn het – ‘n liefde wat, soos met die verlore seun (Luk 15:11-32), ons daagliks inwag, aanneem en by ons bestemming wil tuisbring.
Een waarin ons vir tyd en ewigheid geborge is.
Here, dat ons lewe in U veilig is, is ons grootste troos. Help ons om uit hierdie versekering te bly leef. Amen
Carel Anthonissen