Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus (Filippense 3:7).
Ek het ‘n vriend wat reeds etlike jare lank met depressie en die gebrek aan selfvertroue sukkel.
Nie lank gelede nie vertel hy hoe hy nou ná al die jare, danksy onder andere die hulp van ‘n goeie terapeut, ontdek het waar die eintlike probleem lê.
“Ek het oor ‘n lang tydperk verskeie swak keuses wat my werk en veral my verhoudings aanbetref gemaak. Dit het ‘n patroon geword, maar ek het dit nooit besef nie. Ook nie toe die vermoede wel daar was, kans gesien om dit te erken nie. Totdat die gevolge daarvan my begin tref en my oë daarvoor oopgegaan het.”
My vriend se ontdekking en bekentenis was vir hom ‘n groot bevryding. Dit was duidelik in sy blink oë en die nuwe vryheid waarmee hy gepraat het. Maar dit is wat só ‘n ontdekking aan ‘n mens doen – jy herwin letterlik jou lewe, jou waardigheid, jou selfvertroue.
Maak egter nie ‘n fout nie: Om daarby uit te kom, verg groot moed. Dit vra ‘n hele hersiening van jou lewe. Selfs ‘n soort bekering. Dit beteken die doelbewuste uitbreek uit ou, destruktiewe patrone en gewoontes.
En die maak van nuwe, meer opbouende keuses.
Here, open vandag my gemoed en denke om die talryke verkeerde keuses wat ek deur die loop van my lewe gemaak het, raak te sien en te erken. En Here, lei my dan in u weë wat heilsaam en helend is. Amen
Carel Anthonissen