Josef is ‘n boom wat vrugte dra, ‘n vrugteboom by die fontein (Genesis 49:22).
Onlangs sien ek ‘n dokumentêre film oor die lewe van Stalin.
Met lewende insetsels uit sy lewe, bied die film ‘n fassinerende, maar ontstellende, blik op hierdie omstrede leier van Rusland. Hoe langer jy daarna kyk, hoe duideliker word dit dat Stalin ‘n uiters siek en onstabiele persoon was.
Tydens sy regeertyd het hierdie fors en bebaarde Rus geen kritiek of opposisie geduld nie. Selfs dié wat die naaste aan hom geleef het, het dit mettertyd ontgeld.
Terwyl hy as toegewyde kommunis ‘n soort paradys aan sy mense beloof het, was sy erfenis presies die teenoorgestelde. Onder sy bewind is nie minder nie as 20 miljoen mense wreedaardig vervolg, gevang, opgesluit, gemartel en om die lewe gebring.
Sy lewe laat ‘n mens met verskeie vrae. Allereers oor hoe ‘n volk só ‘n persoon as leier kon kies en bewonder. Selfs waar hy ‘n sekere vryhede vir sy volk bekom het – soos tydens die Tweede Wêreldoorlog – bly hierdie bewondering ‘n vreemde raaisel. Tot vandag toe.
Belangriker nog is die vraag: Watter erfenis of voetspoor laat jóú lewe na? Ja, waarvoor sal die mense – jou vriende, familie en kennisse jóú eendag onthou en eer?
Dié vraag maak tog saak, of hoe?
Here, in dié dae wat ons Jeugdag vier, help ons om goed na te dink oor die soort erfenis wat ons vir ‘n volgende geslag wil nalaat. Amen
Carel Anthonissen