Wees goedgesind teenoor alle mense (Romeine 12:17).
Die omstrede Russiese leier, Josef Stalin, het verskeie uitsprake gemaak wat wys hoe totaal paranoïes en vreesbevange hy geleef het.
Een daarvan lui: “Die land sal sterf, omdat julle die vyand nie raaksien nie.”
In dié uitspraak hoor ‘n mens reeds die diep wantroue waarmee hy geleef het. Hoe hy die mensdom, ja, ook sy eie volksgenote, in terme van vertrouelinge en vyande gesien het.
Hoe hy hierdie siening selfs aan ‘n verdraaide vorm van patriotisme gekoppel het. Asof die land te gronde sou gaan indien jy nie gedurig hierdie sogenaamde vyande uitsnuffel en aan die man bring nie.
Hoe verskriklik tragies tog dat ‘n mens se hele lewensprojek dáárom gegaan het! En dat jy miljoene ander beïnvloed het om dít te glo, hulle selfs verwyt het omdat hulle nie dieselfde wantroue as jy gedeel het nie.
Wat ‘n kontras vorm Stalin se angstige benadering van die lewe nie met dié van die evangelie nie! Die evangelie wat ons herinner dat alle mense iets van God in hulle omdra, en daarom ons respek waardig is.
Ook nie noodwendig ons vyand hoef te wees nie.
Here, dankie vandag weer vir die evangelie wat ons bevry van al ons angste en ons help om in ons vyande reeds ‘n vriend te herken. Amen
Carel Anthonissen