Die stem van die Here weerklink oor die waters. Dit is die magtige God wat die weer laat dreun; die Here self is op die groot waters! (Psalm 29:3).
Siddartha is ‘n boek waarin die beroemde Duitse skrywer, Herman Hesse, ná jare se reis en nadenke, sy eie lewensfilosofie op ‘n boeiende manier uitspel.
In die boek integreer Hesse sy Christelike agtergrond met sy ervarings van die Ooste, met name Indië. Dit bevat wysheid en insigte wat vir ons tyd weer belangrik geword het.
So ontdek Siddartha, die boek se hoofkarakter, dat ons lewensreis nooit eindig nie. Ons bereik nooit ‘n punt waar ons alles kan peil en verstaan nie. Ons bly pelgrims wat gedurig moet leer, veral ook deur teleurstelling en lyding heen.
Van die belangrikste lesse wat Siddartha ná baie ervarings leer, is dat ‘n mens goed moet leer luister. Want wie goed luister, leer nie net baie by ander mense nie. Hulle leer ook van die natuur.
Teen die einde van die boek is dit dan ook die groot ontdekking wat Siddartha in die geselskap van sy vriend, Vasudeva – ‘n bootsman wat mense daagliks oor ‘n rivier neem – maak. Dit is dat die rivier ‘n mens amper alles kan leer wat jy van die lewe hoef te weet.
In ons Christelike samelewing het ons ongelukkig baie van dié wysheid verloor. Wat verbasend is, want die psalmdigter, en later ook Jesus, het lankal reeds geweet dat God deur die natuur met ons kan praat.
En dat ons op dié manier baie by die plante, diere en ook die riviere kan leer.
Here, gee ons vandag ‘n opmerksame gees sodat ons u stem ook in die ritmes van die natuur beter kan hoor. Amen
Carel Anthonissen