Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Let op die vrae

Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?” (Markus 8:27).

In sy boek “Wishful Thinking: A Seeker’s ABC”, gee die teoloog, Frederick Buechner, waardevolle advies oor hoe ons die Bybel meer sinvol kan lees.

Een van sy wenke is dat ons nie altyd in die Bybel vir antwoorde moet gaan soek nie, maar ook opmerksaam moet raak vir al die vrae wat in die Bybel opduik.

En hiervan, só voer hy aan, is daar heelwat. God se vraag aan die eerste mens in die paradys, “Waar is jy?” (Gen 3:9) is maar een vroeë voorbeeld. Net ‘n entjie verder in Genesis 4:9 duik nog ‘n belangrike vraag op wanneer die Here vir Kain, ná die moord op sy broer, vra: “Waar is jou broer?” En direk dáárna: “Wat het jy gedoen?”

Later in die Nuwe Testament, spesifiek tydens Jesus se bediening, hoor ons nog eens ‘n hele boel belangrike vrae soos: “Wie is my naaste?” (Luk 10:29). Of Jesus se vraag aan die dissipels: “Wat soek julle?” (Joh 1:38). Of sy vraag aan die sieke by die bad van Betesda: “Wil jy gesond word?” (Joh 5:6).

En so sal ons kan aangaan.

Volgens Buechner het ons al ‘n ver pad gekom as ons in van dié vrae ons eie lewensvrae begin herken. Dan, so voer hy aan, het ons ten minste al begin luister, selfs al ken ons nog nie die antwoorde nie.

Want om te leef met jou vrae, kan soms belangriker wees as om té gou by klinkklare antwoorde uit te kom.

Here, dankie dat u Woord ook ‘n plek is waar ek vandag my eie lewensvrae kan verneem. Help my om geduldig daarmee saam te leef. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.