Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam genoem, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie… (Jesaja 43:1-2).
Wanneer die dissipels, oorweldig deur ‘n storm, Jesus wakker maak met die verwyt dat Hy nie regtig omgee nie – dat Hy onverskillig teenoor hulle nood is, duik daar ‘n tweede belangrike vraag in hierdie aangrypende storie van Markus 4:35-41 op.
Dit is wanneer Jesus aan hulle vra: “Waarom is julle bang?”
O, hoe goed ken ons dit nie: die vrees of angs wat soos ‘n groot swart skaduwee oor ons lewe kan kom hang – wat ons gemoed met allerlei skrikvrae en kommer kan kom teister en belas. Wat ons angstig en doelloos kan laat rondskarrel, ons selfs nagte kan laat wakker lê.
Vrees – dít weet ons tog – is ‘n destruktiewe mag wat ‘n mens kan verlam, wat jou moed kan breek en jou van jou vreugde en uitsig kan beroof. Sodat jy uiteindelik, net soos die dissipels, alleen maar kan uitroep: “Here, red ons! Ons vergaan!”
In sulke oomblikke moet ons tot bedaring kom en weer eens die troostende vraag van Jesus beluister en oordink: “Waarom is julle bang?” (Mk 4:40).
Ja, kom ons maak dit meer persoonlik: “Waarom en waarvoor is jý vandag bang?”
Weet tog: Hierdie vraag kom van Hom wat destyds die winde bestraf en die see tot bedaring gebring het. Hy heers oor die magte. Boonop kén Hy jou en wil Hy as Heer vandag in jou nood bý jou wees.
Selfs al voel of sien jy dit nie.
O Here, U ken my vrese, die angs wat my laat wakker lê in die nag. Bring my tog tot bedaring, gee my weer u vrede. Amen
Carel Anthonissen