Dawid en sy manne het hard gehuil totdat hulle nie meer kon huil nie (1 Samuel 30:4).
Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word (Matteus 5:4).
Die voorgeskrewe Leesrooster-tekste vir die periode ná Paasfees – ook bekend as “koninkrykstyd” – vertel onder andere vir ons die kleurryke verhaal van Dawid se lewe.
Die opkoms van Dawid as koning van Israel begin met ‘n uitgebreide mededeling van Saul en sy seuns se dood op die berg Gilboa (1 Sam 31 en 2 Sam 1:1-16). Hierop volg dan ‘n aangrypende klaaglied of treurgedig van Dawid.
Wat die gedig so ontroerend mooi maak, is dat dit ons ‘n ongewone blik in emosionele lewe van Dawid gee. Ons geniet hier die voorreg om, soos een skrywer dit stel, ons “oor by sy hart te hê”.
In dié gedig hoor ons veral sy diepe droefheid oor sy vriend Jonatan. Méér nog: Ons hoor hoe lief hy vir Jonatan was. “Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou”, skryf hy in 2 Samuel 1:26.
Tog ‘n merkwaardige erkenning, selfs belydenis, veral as ons daaraan dink dat dié gedig in die openbare sfeer aangekondig is. Dawid gee selfs opdrag dat die inwoners van Juda die gedig moet aanleer.
Daarmee herinner Dawid ons dat emosies belangrik is. En dat ons nooit té groot, té oud of té belangrik is om, wanneer dood en verlies ons tref, nie openlik te treur of te huil nie.
Trouens, juis die vermoë dáártoe maak van ons, in die woorde van Jesus (Matt 5:4) “geseënde mense”.
Here, dankie dat u vandag weer u seën gee aan dié wat kan treur. Amen
Carel Anthonissen