Saul en Jonatan, geliefde en beminde mense – in lewe en sterwe nie geskeie nie. Hulle was vinniger as arende, sterker as leeus (2 Samuel 1:23).
Dawid was inderdaad die liefling van God.
En tog was dit ook van hóm waar dat sy hart soms bedrieglik en onbegrypbaar was.
Duidelik hoor ons dit in die treurgedig wat hy kort ná Saul en sy vriend Jonatan se dood geskryf het. Dié gedig is, soos ons reeds gehoor het, ‘n gevoelvolle uitdrukking van sy liefde vir veral Jonatan. Dit herinner ons tereg daaraan dat ons ook maar voluit mag treur en ons gevoelens wys.
Tog het die gedig ook ‘n ander kant. Dit verteenwoordig terselfdertyd ‘n berekende en goed beplande politieke skuif. Want sien, dit was tog algemeen bekend dat die verhouding tussen Dawid en Saul nie so goed was. Dat Saul se skild en swaard wat Dawid hier so gloedvol besing (2 Sam 1:21-22), meermale gebruik was om hom om die lewe te probeer bring.
En tog hou Dawid in die gedig vol om Saul openlik en onbeskaamd te loof, om hom as held te vereer, selfs aan te dring dat alle inwoners die lied of gedig sal aanleer.
Hoe moet ons dit verstaan? Vanwaar die verskuilde taal, die dubbele agenda? Op dié manier – so lees ons tussen die lyne – wou Dawid die indruk van sy lojaliteit teenoor Saul volhou. En só verseker dat die volk, en veral Saul se mense, hom sou ondersteun wanneer daar weer ‘n nuwe koning verkies moes word.
Ja, so bedrieglik en dubbelslagtig is die mens se hart. Selfs by die bestes van ons skuil daar agter vroom woorde en vrolike gesange, onvermoede vrese, ambisies en agendas.
Die merkwaardige is dat God, ten spyte hiervan, Dawid en almal wat soos hy is, nooit verlaat of verwerp nie.
Here, saam met Dawid wil ons vandag bid: “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig” (Ps 51:13).
Carel Anthonissen