Dawid het toe besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het en dat die Here Dawid se koningskap in hoë aansien gebring het ter wille van die volk Israel (2 Samuel 5:12).
Wie ‘n toonbeeld van ware leierskap soek, hoef nie verder as Dawid, die tweede koning van Israel, te soek nie.
Weliswaar moet ons Dawid nie te veel idealiseer nie. Hy was geen onkreukbare held nie. Soos alle mense, het hy ook sy swakhede en foute, sy hartseer en teëspoed gehad.
So was sy vroeë huwelik met Saul se dogter, Mikal, maar baie wankelrig. Later sou hy egbreuk en moord pleeg om Batseba as vrou te verkry. Drie van sy kinders, Absalom, Amnon en Tamar, het hom erge probleme en kommer besorg.
En tog was Dawid altyd bewus van sy eie broosheid as mens – ook bereid om sy sondes en swakhede voor God te bring en om vergifnis te vra. Dit het hom tegelyk nederig én groot gemaak. Soos in sy kinderjare toe hy in die veld skape opgepas het, was hy regdeur sy lewe ‘n herder vir sy volk – iemand wat vir hulle gesorg en ingetree het (2 Sam 5:2).
Dit is geensins toevallig nie dat ons lees dat Hy al hoe sterker geword het en dat die Here die Almagtige by hom was (2 Sam 5:10). Ook dat die Here sy koningskap in aansien gebring het (2 Sam 5:12).
Want dít is die geheim van ware leierskap.
O Here, hou ons bewus van ons eie broosheid as mense en gee ons die moed om, soos Dawid, ‘n lewe van sorg en deernis teenoor alle mense te lei. Amen
Carel Anthonissen