Die hele dag roep ek na U, Here, en steek ek my hande in gebed na U uit (Psalm 87:10)
Dat musiek gebed sonder religie kan wees, soos die Joodse musikant, Feidman sê, is inderdaad ‘n wonderlike uitdrukking of waarneming.
Maar miskien verdien sy opmerking tog ‘n bietjie toeligting.
Want dit is beslis nie so dat alle musiek mens so ontroer dat jy na bid voel nie. Inteendeel, daar is musiek wat erg steurend kan wees – wat ‘n mens kan ontstem en oprui. Jou selfs in ‘n slegte of aggressiewe bui plaas.
Maar daar ís ook musiek wat, sonder dat dit noodwendig ‘n direkte geestelike inhoud het, jou só kan aangryp en ontroer dat jy spontaan jou hande in ‘n soort gebed na bo wil strek. Of jou oë wil sluit en in verwondering wil kniel.
Wie in stilte na die stadige adagio-beweging uit Beethoven se negende simfonie luister, of na dieselfde beweging uit Dvorak se tjellokonsert in B Mineur – of selfs na Van Morrison se “These are the days” – sal weet waarvan ek praat.
Smake verskil, maar daar is inderdaad musiek wat die allure van ‘n gebed sonder enige religie het. Musiek wat in dié sin ‘n spontane uitreik na iets méér verhewe as jyself meebring.
Vir hulle wat sukkel om te glo, kan sulke musiek selfs ‘n belangrike medium vir ‘n eerliker soeke na en selfs dieper bewussyn van die goddelike word.
Here, laat daar vandag tog weer musiek in ons ore opklink wat ons harte ontroer en ons ‘n dieper bewussyn van U self, ja van u goedheid en skoonheid, gee. Amen
Carel Anthonissen