Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van die ander (Filippense 2:4).
Ek vind dit onbegryplik dat daar mense is – ja, selfs sogenaamde Christene – wat ander doelbewus te na kom.
Hulle kan ander mense nie die kanse of geleenthede gun wat hulleself geniet nie.
Maar dit gebeur. Onlangs vertel iemand my hoe hy, terugskouend op sy lewe, skielik ná al die jare besef hoe een van sy vermeende vriende hom altyd doelbewus uit sekere posisies gehou het.
Die vriend was wel ‘n bietjie ouer en het altyd allerlei belangrike posisies beklee. Maar hy het bedreig gevoel en het, skynbaar om die beherende rol in die vriendskap te behou, sy maat doelbewus uit sekere posisies gehou. Ironies genoeg het hy het wel ander wat minder bekend en nie so talentvol was nie, aanbeveel en na vore gestoot.
Maar nooit sy naaste vriend nie.
Sy optrede het my weer laat dink aan die bekende uitdrukking wat hierdie neiging of tendens beskryf. Dit is dat a-klas mense gewoonlik a-klas mense uitsoek en aanstel, en b-klas mense ironies genoeg vir c-klas mense gaan.
Dit bly tog tragies en hartseer dat mense so kortsigtig en kleingeestig kan wees.
Dié soort optrede staan boonop haaks op die evangelie wat ons juis aanmoedig om grootmoedig te wees, mekaar te ondersteun en die ander se belange hoër as jou eie te ag.
Here, vergewe ons ons afguns en kortsigtigheid en gee ons vandag meer liefde en grootmoedigheid, sodat ander ook mag blom en tot hulle reg kom. Amen
Carel Anthonissen