Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd (Efesiërs 5:15-16).
Ek het ‘n vriend wat as ‘n pastor in Denemarke se tronke werk.
Misdaad is hier aansienlik minder en die tronke geriefliker. En tog bly die probleme waarmee die gevangenes worstel, oral dieselfde. Soos gebroke verhoudings, geweld by die huis, alkoholisme, dwelmverslawing en miskenning.
My vriend se benadering tot hierdie gevalle en vergete mense is uniek. Hy help hulle om raak te sien dat die laste wat hulle moet dra, by wyse van spreek, ook ‘n rugsak vol geskenke kan wees.
Hiermee bedoel hy dat hulle hartseer, ja, alles wat hulle neerdruk en knel, ook die potensiaal het om hulle lewe te verander en te verdiep. Selfs lesse bevat waaruit ander wat in soortgelyke situasies verkeer, kan leer.
Solank as wat hulle nie daarin vasval of dit as verskoning gebruik om maar in hulle ou weë te volhard nie.
My vriend se siening bevat natuurlik ‘n uitdaging vir ons almal. Dit is om gedurig te kyk en te oorweeg hoe ons terugslae en teleurstellings na iets positiefs, iets goeds omgebuig kan word. Nie alleen vir onsself nie, maar ook vir ander.
Ja, hoe ons laste ‘n rugsak vol geskenke kan word.
Here, hoe dikwels swig ons nie onder ons laste en terugslae nie. Leer ons om daarin ook geleenthede vir verryking en diens te sien. Amen
Carel Anthonissen